VERLOSSING

Die beginpunt van alles is om te weet dat God jou baie liefhet!
Hy is opgewonde oor jou lewe. Hy het groot planne en ’n roeping vir jou.

ROMEINE 10:9-10

Want as jy met jou mond bely dat Jesus die Here is en met jou hart glo dat God Hom uit die dood opgewek het, sal jy verlos word. Want as ons glo met ons hart, word ons vrygespreek en as ons met ons mond bely, word ons verlos.

Elkeen van ons het tye waar ons besluite neem wat die rigting van die res van ons lewe bepaal. Wie jou lewensmaat is, wat jy gaan studeer of waar jy gaan werk. Die besluit om Jesus te volg bepaal egter nie net die rigting van jou lewe hier op aarde nie, maar ook jou ewige bestemming. Jesus bring vir ons meer as net lewe, hy gee vir ons ewige lewe. Die keuse om ‘n navolger van Jesus te wees verander jou hele lewe en bring jou in verhouding met God wat andersins nie moontlik sou wees nie.

Dis nie ‘n godsdiens nie, maar ‘n verhouding met ‘n lewende God van liefde.

Indien jy ‘n keuse gemaak het om Jesus te volg of graag met iemand daaroor wil gesels, sal ons jou graag bystaan in die volgende stap van hierdie opwindende reis. Kliek die skakel hieronder om jou reis saam met Jesus te begin.